Porto Alegre

Porto Alegre

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Brasilië Brasilië
 Deelstaat Rio Grande do Sul
 Koördinate 30°2′S 51°14′W / 30.033°S 51.233°W / -30.033; -51.233
 Gestig op 26 Maart 1772
 Oppervlakte:  
 - Totaal 496,827 vk km
 Hoogte bo seevlak 10 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2020) 1 488 252
 - Bevolkingsdigtheid 2 837,5/vk km
 Tydsone UTC -3 (BRT)
 Burgemeester Sebastião Melo (MDB)
 Amptelike webwerf prefeitura.poa.br

Porto Alegre (Portugees: [ˈpoɾtu aˈlɛɡɾi], , letterlik: "vrolike hawe") is die hoofstad van die Suid-Brasiliaanse deelstaat Rio Grande do Sul met 'n oppervlakte van 496,827 vierkante kilometer en 'n bevolking van 1,5 miljoen in 2020. Porto Alegre is die belangrikste handel- en nywerheidsentrum in die suide van Brasilië en die vyfde grootste metropolitaanse gebied van die land met 'n bevolking van 4,0 miljoen. Die stad lê aan die oewer van die Rio Guaíba, wat hier die grootte van 'n meer bereik, sowat 50 kilometer vanaf sy uitmonding in die Lagoa dos Patos.

Porto Alegre se stadshorison

Porto Alegre is gedurende die Spaans-Portugese grenskonflikte van die 18de eeu gestig. In 1742 het sowat sestig koloniste van die Portugese Asore-eilandgroep hulle aan die oewer van die Rio Guaíba gevestig. Die vinnige ekonomiese opswaai van die nedersetting het in 1824 met die vestiging van Duitse setlaars uit die Hunsrück en ander Duitse gebiede begin wat hier 'n nuwe heenkome as kleinboere gevind het.

Die stad bied aan sy inwoners volgens 'n ondersoek van die Verenigde Nasies die hoogste lewenskwaliteit van alle groot stede in Latyns-Amerika. Porto Alegre is vandag 'n moderne hawestad met baie wolkekrabbers en pronk met sy indrukwekkende ligging in die heuwels van die kusgebied en 'n groot aantal tuine en groen gebiede.

Vanweë die nabygeleë Campanha Gaúcha, die land van die gauchos, word Porto Alegre ook dikwels die "Hoofstad van die Gauchos" genoem. Ander belangrike besienswaardighede in die omgewing is die suidhange van die Serra Gaúcha waar Europese setlaars 'n blywende stempel afgedruk het, en die bouvalle van voormalige Jesuïete-nedersettings.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy